Rondekerk NG Gemeente Secunda

Die Rondekerk is ʼn liefdevolle Geloofs- en familiesentrum vir rus, groei, ontwikkeling, toerusting en genesing – met die Woord van God en naasteliefde as fondament en vertrekpunt. Ons naam en hartklop: Die Rondekerk – ʼn Liefdevolle geloofsfamilie waar almal welkom is, is nie sommer net ʼn naam nie, dis ʼn identiteit, ʼn werklikheid, ʼn lewens-ritme, ʼn hawe van hoop vir alle mense. Ons bestaan vir mense en ter wille van mense – mense van ons gemeenskap, die omgewing, ons provinsie, land en die wêreld.

Ons is ʼn gemeente in en vir die wêreld, tussen mense in die werklike wêreld en ons streef voortdurend daarna om meer effektief en verantwoordelik ‘kerk’ in die wêreld te wees – daar waar ons werklik ʼn verskil kan en wil maak. Ons hartklop is om ʼn gemeente met impak, vir Christus, in die werklike wêreld te wees.

Vir die Rondekerk is ‘kerk’ nie ʼn gebou of aksies / gebeure op die kerkterrein nie, ‘kerk’ is ʼn lewende Liggaam wat daagliks daar beweeg waar die lewe gebeur.

Die talle geleenthede en aksies of bedieninge soos eredienste, Veritas Bybelskool, Divorce Care, Grief Share, kursusse, Bybelstudie-groepe, omgee-groepe, kinder- en tienerbediening, Golden Oldies seniorbediening, POPS – ʼn bediening vir ouers met voorskoolse kinders ensovoorts wat wel op die kerkterrein plaasvind en vir die hele gemeenskap aangebied word, is alles toerustingsgeleenthede waar hegte verhoudings gesmee word om effektief kerk in die wêreld te kan wees.

Baie gemeentes het ʼn passie vir Jesus – by die Rondekerk is dit vir ons lekker om te sien hoe die passie van Jesus daagliks ons passie word – die passie waarmee ons kerk in die wêreld en vir die wêreld is. ʼn Gemeenskap is dikwels deeglik bewus van die sake of kwessies waarteen ʼn gemeente is, met ander woorde die sake waarteen daardie gemeente hulself uitspreek en dus nie van hou nie, maar dit is nie altyd duidelik waarvoor ʼn gemeente staan of is nie. Baie gemeentes ‘staan’ mos ook op die Bybel, die Rondekerk leef en doen die Bybel, is ‘in’ die Bybel besig.

By die Rondekerk glo ons dat alleen Jesus lewens verander en vernuwe, en Hy doen dit deur Sy Liggaam (die kerk) – altyd deur middel van die liefde en liefdevolle verhoudings – as vertrekpunt. Dit is vir ons lekker om binne daardie spasies van liefde en verhoudings te staan sodat Hy die vernuwing deur Sy Gees, deur ons, kan bewerk. Ons staan dus vir ʼn lewe in ritme met die hartklop van Jesus en ons glo en vertrou dat Hy ʼn gewillige Liggaam toerus en bekwaam maak vir hierdie voorreg en verantwoordelikheid op aarde.

Die Rondekerk het drie Leraars wie se deure en harte oopstaan vir die gemeenskap. Hulle is toegerus om mense pastoraal te begelei en by te staan deur middel van die volgende dienste: berading: huweliksberading, huweliksverryking, voorhuwelikse-verryking, huweliksbevestiging, verhoudingsbegeleiding, trauma-begeleiding, egskeiding-begeleiding, ouer-begeleiding, rou/smart-begeleiding, lewens-begeleiding, aftrede-begeleiding, begeleiding aan ouers na die dood van ʼn kind, werkloosheidsbegeleiding en vele meer.

Al drie die leraars is bekwame geestelike mentors en stap daagliks die pad saam met honderde mense van die gemeenskap. As familiesentrum is die Rondekerk ook ʼn ruimte en tuiste van rus vir die gemeenskap en omgewing; ʼn veilige rus-oase binne hierdie gejaagde, harde en dikwels koue woestyn-samelewing en tye waarin ons leef. Daarom is dit vir ons drie leraars, maar ook vir die gemeenteraad en lede van die familie lekker om mense vir ʼn koffie te ontmoet en te ontvang, om sodoende net ʼn tyd / ruimte te skep waar mense weer bymekaar kan uitkom, mekaar se stories kan hoor, saam kan bid en net ʼn stukkie rus en kalmte kan ervaar.

Die Rondekerk is nie maar net nog ʼn kerk of gemeente nie, en dit sal jy sommer met die eerste intrap beleef en ervaar. Dit is werklik ʼn warm geloofsfamilie met ʼn passie vir mense, God se mense. In ʼn koue wêreld – waar die kerk se oordeel soms kouer is as die hartjie van die winter – is dit vir ons lekker om saam met mense van alle  ras, taal of nasie, ook hulle wat dalk nie soos ons lyk, ruik of dink nie, ʼn warm, liefdevolle pad te stap waar God en naasteliefde sentraal staan in elke ontmoeting.

Die Rondekerk verkondig en leef Jesus Christus se boodskap van liefde en aanvaarding: ons omhels en nooi mense in – na Jesus toe – sodat hulle Hom sal leer ken en lief sal kry, sodat Hy die vernuwing en verandering in hulle lewens kan bewerk – soos net Hy kan. Sonder daardie ruimtes – wat die Rondekerk daagliks vir mense skep en bied – bly talle mense agter in ʼn koue, harde wêreld. Die Rondekerk wil en sal dit nie toelaat nie.

Die Rondekerk hou van mense, is gaande oor mense, stel belang in mense – alle mense. Dit is dikwels nogal ʼn skok om agter te kom dat gelowiges of gemeentes nie so baie van God hou as wat Hy van hulle hou nie; of om te besef dat hulle nie soveel aanklank by God vind as wat Hy by hulle vind nie. Baie gelowiges en gemeentes hou ook nie van, en is heel dikwels nie baie lief vir sommige mense nie – dit terwyl God vir daardie mense baie lief is, Sy lewe vir hulle gegee het. Volgens die Bybel moet ons van kop tot tone met die liefde deurdrenk wees; die liefde van God moet ons hele wese en lewe definieer; dit moet ons energie en brandstof wees. Gevul met hierdie brandstof woeker die Rondekerk binne die Koninkryk van God.

Ons nooi lede van die gemeenskap hartlik uit om van enige van ons geleenthede of dienste gebruik te maak, dit sluit in die wye veld van berading en geestelike-begeleiding of mentorskap in die betrokke veld. Ons kan nie wag om julle te ontvang en die pad saam met julle te stap nie – kom groei saam dieper!

  • Phone :

    017 631 3470

    079 772 6933

  • Address :

    C/O Coen Brits & Goddefroy st

    Secunda

  • Kantoor Ure:

    Mon. 10:00-12:30

    Tues.-Fri. 07:30-12:30

  • Office Hours:

    Mon. 10:00-12:30

    Tues.-Fri. 07:30-12:30

  • Church Service:

    Sunday from 09:00

Send us mail